| |
|
Volkshulp 2000 en elkeen van sy projekte/besighede
word volgens bepaalde besigheidsbeginsels en dus as volwaardige
besighede bedryf. Een van sy beleidstellings is dan ook om maksimale
fondse beskikbaar te stel vir behoeftebevredigingsprojekte.
Inderwaarheid beteken dit dat elke personeellid meer as net sy of haar
deel moet doen. Dis juis waar die kwaliteit van Volkshulppersoneel
duidelik blyk. Hulle skroom nie om meer as hulle kant te bring nie.
Prysenswaardig, indien veral in ag geneem word dat daar nie sprake is
van markverwante salarisse nie. Vandaar dan ook dat sodanige
bogemiddelde prestasies wel periodiek beloon word deur die betaling van
‘n kontantbonus. Die teendeel is ook waar, naamlik dat meer personeel
weliswaar aangestel kan word, maar dan weer met ‘n verminderde bedrag
geld om aan maatskaplike projekte te bestee.
Dis duidelik dat Volkshulp 2000 in toenemende mate
onder al hoe meer druk van die kant van staatsowerhede kom. Die getal
navrae van die kant van die Ontvanger van Inkomste as voorbeeld. Baie
tyd word aan hierdie navrae gewy, want nie alleen moet geskiedenislêers
opgediep en nageslaan word nie, maar moet ook die ouditeure genader word
wanneer sulke navrae beantwoord word. Baie tyd word deesdaags hieraan
gewy.
- Volkshulpsentrum, Volkshulptuiste en Snuffelwinkels
‘n Interessante gebeurtenis wat nogal in sekere sin
ietwat komies voorkom, is die feit dat daar sowat 15 maande gelede
aansoek by die SAID gedoen is om die vrystelling vir belastingdoeleindes
ingevolge Art 18 (a) van die Inkomstewet. Na ‘n lang gewag kom die
uitsluitsel: Volkshulp 2000 is nou geregistreer vir belasting. Dit, op
grond van die inkomste wat die Snuffelwinkels genereer. Voortvloeiend
sal daar sekerlik ook eersdaags BTW oorbetaal moet word. Selfs verder
verontrustend is die feit dat belasting en BTW dalk ook betaalbaar is op
grond van die veronderstelde inkomste uit die
Volkshulpsentrum en die
Volkshulptuiste. Volgens ons rekenpligtige beampte kan Volkshulp 2000
hom maar klaar maak om van aanstaande jaar af sowat R400 000 aan
belasting en BTW te betaal. Hierdie aspek kleur vir ons die prentjie
maar taamlik donker in. Omdat laasgenoemde as verpligting gevestig word,
het ons geen ander uitweg nie as om ‘n Art 21-maatskappy te stig sodat
die Snuffelwinkels as losstaande entiteite van die
liefdadigheidsgedeelte (suiwer volkshulpaktiwiteite) kan funksioneer en
aangeslaan word en die status van Volkshulp 2000 as "nie-winsgewend"
soos in die verlede behou kan word.
|
|