| |
Die hoofdoel van Volkshulp 2000 is nie, soos vele persone meen, om
kos en klere uit te deel nie. Laasgenoemde vorm wel 'n baie belangrike
gedeelte van ons taak, dog in teenstelling daarmee, is ons mikpunte
eerder die indiensstelling van werklose volksgenote en werkskepping
sover ons bes moontlik kan. Daar is gedurende die jaar R558 308.66 net
aan indiensstellings en werkskepping bestee, sowat 31.09% van die totale
uitgawe. Hoe graag sou ons tog nie veel meer aan werkskepping ten bate
van ons werklose volksgenote wat onder andere steeds gebuk moet gaan
onder onbillike wetgewing, soos die diskriminerende "affirmative action"
nie. Ook in hierdie geval geld onregverdige diskriminasie (wat deur die
Grondwet verbied word) teen bepaalde groepe.
Wat indiensstellings betref, word daar op daaglikse
basis met groot erns gepoog om werkgewers en potensiële werknemers by
mekaar uit te bring. Dit gaan gepaard met heelwat telefoonoproepe, maar
danksy Radio Pretoria se tegemoetkoming, benut ons ook die weeklikse
geleentheid op Donderdae om werksgeleenthede oor die lug uit te saai.
Die verstommende bly steeds dat daar heelwat werksgeleenthede beskikbaar
is, maar wat nie altyd opgeëis word nie. By ons is die gevoel dat enige
werk beter is as niks nie. Blykbaar is ons nie heeltemal in die kol nie,
omdat daar weekliks werksgeleenthede steeds beskikbaar bly.
Dis nodig dat klarigheid gegee word oor wat presies alles by die
doelwit werkskepping ingesluit word. Dit behels o.a. in projekte wat
geloods word waarby mense geld/vergoeding kan verdien ten einde daardie
projek (werk) te kan voltooi. Normaalweg sou so iemand om 'n kospakkie
aansoek doen, maar stel ons so iemand nogtans in diens om self ook te
kan verdien. Veral by die aangaande klereprojek waar klerasie en items
ontvang en geboekstaaf word, klere gesorteer, gemerk, verpak,
gerekenariseer en geberg word, word persone teen vergoeding benut en
daardie uitgawe word ook by werkskepping toegedeel. Vele ander
voorbeelde kan vermeld word, maar die ruimte daarvoor ontbreek. Enige
navrae in hierdie verband sal met graagte beantwoord word. |
|