| |
|
Sedert Volkshulp 2000 se ontstaan so vroeg as 1991, opper ons
jaar-na-jaar feitlik dieselfde woorde, naamlik: "Die afgelope jaar was vir
Volkshulp 2000 ‘n wonderlike en geseënde diensjaar". Hierdie
verslagperiode was weereens geen uitsondering nie. ‘n Jaar waarin elkeen
betrokke by Volkshulp 2000, donateurs, Volkshelpers, personeel, almal
saam, het soos ‘n ge-oliede masjien meegewerk om ‘n wesenlike verskil
teweeg te bring; te help in die bekamping van die stoomrollende nood onder
ons mense. Daardie gevreesde snel groter wordende
verarmingsneeubal.
By nadenke wonder mens onwillekeurig of die
aanvanklike stigters van Volkshulp 2000 hulle ooit kon indink welke
fenomenale vordering hierdie organisasie later van jare sou maak.
Verseker het die suksesse wat behaal is, daardie baanbrekers wat die
versiendheid openbaar het om so ‘n organisasie tot stand te bring, se
stoutste verwagtinge oortref. Die eer vir die inisiatief en daadkrag aan
die dag gelê, kom onder andere leiers toe soos ds. Wynand van Wyk,
jarelange Voorsitter van Volkshulp 2000 totdat hy weens ander
verpligtinge moes uittree, en nog ‘n geestelike leier wat ook vele jare
lank as Ondervoorsitter van die Hoofbestuur gedien het, naamlik ds.
André v.d. Berg. Ds. v.d. Berg is tans nog aktief doenig by Volkshulp
2000 al is hy nie meer op die Hoofbestuur nie. Kan mens ooit genoegsaam
dank betuig jeens hierdie baanbrekers?
- Werk asof en soos vir die
Here
Volkshulp 2000 is ‘n instelling wat lankal reeds sy
spreekwoordelike merk binne volksverband gemaak het en is ‘n instelling
waarmee deeglik rekening gehou moet word. Ons handhaaf ‘n lae profiel en
hang nie alles aan die groot klok nie. Al die harde werk word nie gedoen
sodat die dankbetuigings daarvoor moet instroom nie. Ons is net nie
daarop ingestel om sogenaamde "punte" te wil samel nie. By Volkshulp
2000 word daar gewerk asof en soos vir die Here. Daarom is die
insameling van lofbetuigings ook glad nie op ons agenda nie. Ander
dieperliggende faktore is ter sprake, want ons glo dat lofbetuigings nie
bestaansreg waarborg nie.
|
|