|
Volkshulp 2000 vier vanjaar sy 15de verjaardag. Geen geringe prestasie
nie. Inderdaad 'n bepaalde onderskeiding as een van die voorlopers onder
die volkseie organisasies wat al die politieke en ander aanslae oor die
jare heen weerstaan het. Die fenomenale groei van Volkshulp 2000 spreek
duidelik uit die statistieke. Die suksesse is geleë in die feit dat waar
die maatskaplike behoeftes onder volksgenote daagliks toeneem, dit
ongelukkig ook waar is dat die beskikbare middele nie daarmee tred hou
nie. Die agterstande in armoede akkumuleer gevolglik en die
verarmingsproses eskaleer net verder. Die uitdaging: Die
bewerkstelliging van 'n "ontmoeting" tussen hierdie twee uiterstes. Dis
egter net op een manier haalbaar, naamlik, dat daar genoeg fondse moet
wees om die toenemende verarming te probeer hokslaan. Indien die
regering van die dag met al sy beskikbare belastinggeld en enorme
staatskas nie eers daarvoor kans sien nie, is dit duidelik dat ons
uiteraard nooit daardie mikpunt sal kan behaal nie. Dus: spreek aan wat
met beskikbare fondse aanspreekbaar is. Dis net ontsettend jammer dat
veral kindertjies die ergste daaronder moet ly.
Nuwe moderne metodes word ingespan as fondsinsamelingspogings. Daar is
reeds sprake van sukses. Die feit is eenvoudig dat Volkshulp 2000
enersyds volksbesit is en dat elke bydraer 'n mede-eienaar daarvan is.
Dus: elke sent bydrae word grootliks in eie belang bestee. Dit,
gepaardgaande met die feit dat effektiewe beheer oor alle finansies
uitgeoefen word en dat hierdie beheer gekontroleer kan word deur elke
belanghebbende donateur. Geen donateur hoef enigsins bevrees te wees dat
'n bydrae in die spreekwoordelike "put" sal verdwyn nie. Ons rig
deurgaans die uitnodiging dat ons administrasie ondersoek mag word. Min
(indien enige) ander besighede is so selfversekerd en dan ook bereid om
hul boeke so op die tafel te plaas. Die kompetisie daar buite (selfs
welsynspogings van die kant van die staat) is oneindig erg en deesdae
moet radikale idees toegepas word net om te kan oorleef. Die
volksgerigte ingesteldheid is egter een ononderhandelbare aspek waarvan
Volkshulp 2000 nie sal afwyk nie. Die sogenaamde Art 185 van die
Grondwet bied immers vir ons die geleentheid om met gemeenskappe met
dieselfde taal, kultuur en godsdiens, te assosieer.
Opsommend: Ook die afgelope jaar was vir ons 'n hoogs suksesvolle
een. Sommige maande het die uitgawes wel die inkomste effens oorskry –
soos verderaan verduidelik sal word – maar dan het die Here weer telkens
'n barmhartige Samaritaan op ons pad geplaas. Sy genade was vir ons
genoeg. Lofprysinge en dankbetuigings kan daar nie genoeg van wees nie. |