Bygesê moet word dat daardie vyf voorwaar staatmakers van formaat is.
Een van die belangrikste redes vir die mislukking van hierdie metodiek
is dat die Hoofkantoor van Volkshulp 2000 nie behoorlik op hoogte van
gebeure en werksaamhede gehou word nie. Hoe anders kan effektief
rekenskap aan donateurs gegee word indien rekenpligtigheid nie vasgepen
word nie? Dit geld ook met die doen van verantwoording aan ouditeure. Een van
Volkshulp 2000 se belangrikste beginsels is juis dat behoorlike en
effektiewe kontrolemaatreëls in plek is en dat rekenskap van alles in
detail te enige tyd gedoen moet kan word. Verder, dat rekenkundige
boekhouding beskikbaar moet wees vir enige bydraer se insae. Daar is nie
juis veel ander besighede (indien enige) wat bereid is om DIT te doen
nie!
‘n Verdere werklikheid is dat die welsynsomgewing waar
daar hoofsaaklik met geskenkte items van die publiek gewerk word, hom
maklik leen tot misbruik, wanaanwending en dan ook, selfverryking.
Hierdie is aspekte waarop ons deurgaans bedag moet wees.
Hiper-eerlikheid is een van die belangrikste kwalifikasies vir diegene
wat enigsins by hierdie welsynsaktiwiteite betrokke wil wees. Maar, ons
weet gelukkig verseker dat daar nog vele eerbare volksgenote daar buite
is wat met ‘n bepaalde omgee-ingesteldheid geseën is, wat graag vir
Volkshulp 2000 wil help sodat ons oraloor weer effektiewe
Volkshulpkomitees gestig kan kry. Ook in hierdie geval sal Kerke en hul
gemeentes genader word om te verneem of hulle nie nouer met Volkshulp
2000 wil saamwerk nie. Vergelyk
ook Verarming.