|
Die personeeltal het oor
die afgelope klompie jare drasties toegeneem. Verskillende kategorieë
personeel is ter sprake. Daar is op die oomblik 11 permanente eenhede
wat maandeliks vaste salarisse ontvang. Verder is daar sowat 10
deeltydse eenhede wat op ‘n daaglikse grondslag vergoed word. Hulle werk
hoofsaaklik vir die liefde van die saak en net soos met die permanente
personeel die geval is, is daar nie sprake van markverwante vergoedings
nie. Dit sluit nie diegene in wat op ‘n los basis (bv. dagloners) by
geleentheid hulp verleen en op ‘n dag-tot-dag basis betaal word nie.
Dit kan nie genoeg beklemtoon word nie dat ons
personeel die goeie grondslag vir Volkshulp 2000 se suksesse is. Sonder
hulle kan Volkshulp 2000-masjien nie funksioneer nie. Aan elkeen van
hulle kom besondere dank en eer toe.
Ongelukkig moes ons ook die afgelope jaar van enkele
steunpilare afskeid neem. Met groot hartseer, maar iets wat ons nie kon
verhoed nie. ‘n Lojale, eerlike, eerbare, diep godsdienstige en opregte
persoon wat by almal rondom hom besonder geliefd was. Kobus v.d. Merwe se
verloofde woon aan die Oos-Rand en hulle staan op troue. Die afstand en
ongerief speel die deurslaggewende rol. Buitendien kan hy veel meer
verdien as wat Volkshulp 2000 hom kon bied. Vir ons, ‘n geweldige
verlies en ons sal hom mis.
Twee dames het weens swak gesondheid en groter
vergoeding onderskeidelik, ook ons diens verlaat. Belinda Verster en
Susan Barnard was ‘n hele aantal jare lojale, betroubare en
verantwoordelike werkers by Volkshulp 2000. Ook hulle het ‘n leemte
gelaat, maar ons wens hulle, soos ook vir Kobus v.d. Merwe (en sy
toekomstige bruid), baie seën en goeie gesondheid toe.
|