|
Daar is aanvanklik begin met 'n Snuffelwinkel om:
(a), as 'n werkskeppingsprojek vir mense wat nêrens elders werk kon
bekom nie, in diens te stel, sodat hulle deur eie verdienste voedsel op
hul gesinne se tafels kon plaas.
(b) om as fondsgenererende projek, fondse te in, sodat ander
maatskaplike projekte befonds kon word. Die voorraad van hierdie
Snuffelwinkels is slegs die "oorloop"-items en -klerasie wat nie
dadelik aan minderbevoorregte volksgenote oorhandig kan word nie. Ons
hoogste prioriteite bly steeds, maatskaplike gedienstigheid en word daar
allereers na diegene se behoeftes (gratis) omgesien.
Die Snuffelwinkels het uitgebrei na vier, soveel so dat inkomste
hieruit voortgebring, inderdaad Volkshulp 2000 se belangrikste
inkomstebron geword het. Ons sogenaamde "lewenslyn", want daarsonder sou
ons nie naastenby kon voortbestaan nie. Soos dit tans die geval is,
slaag ons nie eers daarin om al die noodsaaklikste behoeftes aan te
spreek nie. Dit wat ons in terme van klerasie en items ontvang, stel ons
in staat om voort te gaan met hierdie belangrike welsynsdiens aan die
gemeenskap.
Die belangrike rol wat die vier Snuffelwinkels in die daaglikse
administrasie speel, blyk duidelik. 'n Inkomste van
R1 049 380 kan nie
versmaai word nie. En nogtans kan al die behoeftes nie bevredig word
nie!
Nou is dit ook so dat die SAID daarop gesteld is dat Volkshulp 2000
inkomstebelasting en ook BTW op gegenereerd inkomste moet betaal.
Hierdie aangeleentheid is nog aangaande. Twee faktore is uitstaande:
Beste benutting van skenkings
Vanweë die feit dat ons kontantdonasies komende van die publiek
nie naastenby voldoende is nie, moet ons eenvoudig poog om daardie
"oorloop"-items te probeer omsit na kontant, waarmee projekte bedryf
kan word. Dis immers nie moontlik om 'n sak klere of 'n tafel as
voedsel aan iemand te gee nie.
Registrasie van ‘n Art 21-maatskappy
Konsultante is intussen betrek om te help met die registrasie van
'n Art 21-maatskappy, sodat die liefdadigheidsbeen (Volkshulp 2000)
losgemaak kan word van die handelsgedeelte waar goedere verhandel
word. Die SAID dring hierop aan, sodat daar eintlik geen keuse vir
ons oorbly nie. Sou dit egter realiseer, beteken dit dat Volkshulp
2000 (liefdadigheidsbeen) kan voortgaan met sy aansoek om
belastingvrystelling ingevolge Art 18a van die Inkomstewet. Wat
verder beteken dat 'n donateur van Volkshulp 2000 ook 'n persentasie
afslag van sy/haar belastingpligtige bedrag kwytgeskeld kan word.
Die inkomste toename soos verderaan aangedui, toon die publiek se
meewerking om soveel items aan ons te skenk. Dit reflekteer die publiek
se houding, ingesteldheid en besorgdheid.
Die inkomste verkry uit die Snuffelwinkels gedurende die vorige jaar
(2004/2005)
het R809 357 beloop. Die afgelope jaar (2005/2006) het 'n
inkomste van R1 049 380 gerealiseer, 'n toename van R240 023 (29.65%).
Verskeie bydraende faktore het 'n rol gespeel. Eerstens, die
daadkragtige medewerking van ons donateure as mede-eienaars van
Volkshulp 2000. Hulle het pragtig saamgewerk en mildelik items geskenk.
Was dit nie vir hulle nie, sou daar nie items in die winkels kon wees
nie en sou Volkshulp 2000 geensins by sy doelwitte kon uitkom nie. Die
tweede belangrike faktor is dat ons op 'n stadium itempryse effe
opwaarts moes aanpas, sodat daar nie kontantvloeiprobleme ontstaan nie.
Benewens die direkte uitgawes wat maandeliks t.o.v. die winkels
aangegaan word, moet ook daardie uitgawes wat op indirekte wyse aan die
winkeluitgawe toegevoeg moet word, in berekening gebring word.
Voorbeelde hiervan is die uitgawe aan personeelsalarisse vir die
aanvanklike ontvangs, afhaal, sortering, merk, kodifisering, ens.
In die proses om 'n hoë graad van professionaliteit te handhaaf en
terselfdertyd maksimale beheer oor elke geskenkte item uit te oefen, het
ons enkele jare gelede oorgeskakel na 'n gerekenariseerde
voorraadbeheerstelsel. Ongelukkig het hierdie stelsel 'n baie lang
"tandekrystadium" beleef. Met groot dankbaarheid kan ons darem nou sê
dat ons wel makliker voorraadopnames in die verskillende winkels kan
onderneem. Ons glo dat die Storemaster-stelsel die voorraadbeheertaak
vorentoe selfs verder sal vergemaklik.
|