Die verskaffing
van voedselpakkies op ‘n deurlopende grondslag, is sekerlik die
belangrikste om aan die lewe te kan bly, maar ooreenkomstig ons doel,
behoort veel meer gedoen te word aan die skepping van werksgeleenthede,
vestiging van nywerhede, ens, sodat die broodwinner self kan werk en kos
op die tafel kan plaas. Ons Volkshulptuiste omvang juis aldrie hierdie
gemelde prioriteitsterreine, naamlik, voorsiening van huisvesting,
werksgeleenthede en ook
voedsel aan gesinne. Wat hierdie spesifieke
projek betref, is dit egter eerstens die huisvestingsgedeelte waar die
grootste leemte ervaar word. Tans bestaan die huisvesting uit enkele
houthuisies (Wendy-huise), woonwaens en een groot oop vertrek waarin 20
mans akkommodeer kan word.
(Foto's) Laasgenoemde is egter hoegenaamd nie die
gewenste situasie nie. Omdat die klem ook in hierdie opsig val op
opheffing en daarstelling van menswaardige omstandighede, is die
voorsiening van ordentlike en genoegsame huisvesting dan ook van
kardinale belang. Die fokus sal gedurende 2005 geplaas word op die
beskikbaarstelling van vaste en permanente geboustrukture waarin ook
gesinne gehuisves sal kan word. Die daarstelling van huisvesting sal
uiteraard sommer groot kapitaalbedrae verg. Hierdie sal ‘n voortdurende
projek wees wat ook nie oornag gefinaliseer kan word nie.
Die Volkshulptuiste is in meer as een opsig ons
"plaas" waar selfs die hoenders, eende en ganse aan mens daardie
besondere "ontvlugtingsgevoel" gee. ‘n Ervaring wat slegs oop ruimtes,
wuiwende gras, vars grondreuk, dieregeluide en wind deur die hare, jou
kan bied.
Die gedagte om verdere werks- en besigheidsgeleenthede
by die Volkshulptuiste te skep, het reeds gerealiseer. Daar is ‘n bedryf
gevestig in terme waarvan allerlei herstelwerk aan geskenkte items soos
yskaste, vrieskaste, allerlei elektriese items, en wat dies meer sy,
gedoen word. Sodra herstel, word sodanige items teruggekanaliseer na die
verskillende Snuffelwinkels. Oorweging word geskenk aan die
moontlikheid om een van die knap inwoners nie net in beheer van die
werkswinkel te stel nie, maar hom ook ‘n aandeel in die besigheid te
gee. Inprestering is uiteraard van groot belang.